EK sit vroeër die week en luister na een van my gunsteling-“podcasts” uit Amerika. Een van die stories wat onder bespreking was, was hoe ontevrede kliënte was met een van die Amerikaanse internetdiensverskaffers wat ‘n onbeperkte internetopsie aan kliënte bied, maar eintlik was hierdie opsie se beperking 200 GIG per maand.

My eerste reaksie was natuurlik dat ek nie kan glo dat enigiemand soveel data in ‘n maand kan aflaai nie, maar dan besef ek dat die spoed waarteen Amerikaners inligting van die net kan aflaai 10 of 20 keer vinniger is as die spoed wat ons in Suid-Afrika beskikbaar het.

Baie Amerikaanse internetgebruikers huur flieks op die internet en laai dit af, soos wat ons ‘n DVD sou gaan huur by ons naaste videowinkel.

Ons het beperkings van 3 GIG of 10 GIG per maand en dit is onbetaalbaar duur. ‘n Soortgelyke diens in Amerika kos sowat R300 per maand en sluit alles in: van jou lynhuur tot die diensverskaffer se tarief.

‘n Jaar gelede was ek oortuig daarvan dat ons binne een jaar aansienlike prysverlagings sal sien, maar die prysverlagings was minimaal.

Selfs die nuwe toetreders tot die mark moet hul pryse tans nog hoog hou om die infrastruktuur daar te stel. Ek wonder soms of die maatskappye wat in beheer is van hierdie netwerke besef dat hul honderde nuwe intekenaars sal kry indien hulle net hul pryse effens laat daal. Hul winste behoort dan aansienlik toe te neem aangesien hulle dalk minder wins per enkel intekenaar maak, maar uit die groot aantal intekenaars groter winste sal toon.

Ons sit nog ons hoop in ICASA, maar tot op hede was daar nie veel vordering nie.