WINDOWS VISTA is uiteindelik hier. Die afgelope paar maande was ek een van die Beta-toetsers van hierdie nuwe weergawe van Windows en uit die staanspoor was ek opgewonde.
Ek het gevoel ek was meer produktief met hierdie weergawe – daar is honderde funksies wat my lewe baie makliker gemaak het. Windows Vista sal binnekort oral in Suid-Afrika beskikbaar wees en ek sal een van die eerste ouens in die ry wees om die finale weergawe te koop en op my rekenaar te installeer. Indien jy in die mark vir ‘n nuwe rekenaar is, is dit ‘n goeie idee om seker te maak dat jy van vandag af slegs ‘n rekenaar koop wat reeds Windows Vista op het. Indien nie, sal jy in ‘n later stadium dalk wil opgradeer en dan sal dit jou heelwat meer kos.
Indien jy nie seker is of jou rekenaar geskik is vir Windows Vista nie, kan jy na die Windows-webblad gaan (die skakel is op www.clickkliek.com) om dit te toets.
Ek het Dinsdag ‘n aantal mense toegespreek oor tegnologie en Web 2.0 en toe ek die uitreiking van Windows Vista noem, was daar een baie ontevrede gesig.
Hy het Maandag ‘n duur skootrekenaar gekoop en die verkoopspersoon het nie aan hom verduidelik dat Windows Vista binne die volgende week beskikbaar gaan wees nie. As hy dan nóú wil opgradeer na Windows Vista, gaan dit sy sak ruk.
Afrikaanssprekendes sal ook baie gelukkig wees oor die feit dat Windows Vista ook in Afrikaans beskikbaar sal wees.