APPLE het aangekondig dat verbruikers nou flieks deur iTunes kan huur. Jy betaal basies $3,99 of R28, laai die fliek af en kyk dit.

Jy het 30 dae om die fliek te begin kyk en jy het 24uur om dit klaar te kyk nadat jy begin het.

Nadat ek dit gesien het, het ek besef dat dit ’n wonderlike diens is, maar in Suid-Afrika sal dit onbekostigbaar wees.

Die gemiddelde fliek wat jy kan aflaai, is 1,5gigabyte en in Suid-Afrika sal dit jou ongeveer R100 of meer kos vir daardie 1,5gigabyte. Tel die R30 by wat jy vir die fliek se huur betaal en dit werk jou sowat R130 per fliek uit. Dit vir ’n fliek wat jy slegs vir 24uur kan kyk. Jy kan dus nie vandag kyk en môre weer nie, jy moet dit vandag klaar kyk en dan verval dit.

Ek kon nie glo dat die klomp Amerikaners so opgewonde is oor hierdie diens as dit so duur is nie. Dit is toe wat ek gaan ondersoek instel.

Ek het na 25 van die eerste ADSL-verskaffers in Amerika wat ek kon opspoor gekyk en kon nêrens ’n beperking op die hoeveelheid data wat jy kan aflaai op enige van die bladsye kry nie.

Dit is dus vir Amerikaners maklik om ’n fliek teen R30 te huur, daar is nie werklik enige ekstra koste vir die aflaai van die fliek nie. Dit is net jou basiese internetkoste (wat jy reeds betaal het) en dan die huurkoste vir die fliek.

Ek het werklik geglo dat ons teen hierdie tyd in Suid-Afrika ons by die res van die wêreld sou aansluit en meer aanvaarbare pryse vir internettoegang sou betaal.

Dit wil my egter voorkom of die diensverskaffers hierdie goue koei wil melk tot op die bitter einde.

Ons moet maar net terugsit en dit aanvaar.

Gelukkig sal ons dit een van die dae nie agterkom nie, siende dat ons nie elektrisiteit sal hê om ons rekenaars aan te sit nie.

 

 

Click Here for THE BEST HOME LOAN DEAL EVER!