DIE afgelope week het ek en my vrou ’n bietjie by die see ontspan. Ons het ’n vakansie nodig gehad en het see toe gevlug.

My vrou het ook ’n tegnologie-slaaf geword en deel nou in al die vreugdes wat in ons lewe moontlik gemaak word deur die tegnologie en dat ons altyd en oral aanlyn is.

Met die aanvang van ons reis het ons gesien dinge gaan tydens hierdie vakansie anders wees.

Ons het begin met ’n kompetisie met mekaar om die meeste punte bymekaar te maak met FourSquare (www.foursquare.com).

Ons neem die etes wat ons die meeste geniet af en sit dit op FoodSpotting (www.foodspotting.com).

Ons deel deur die loop van die dag foto’s op Instagram (www.instagram.com) en so elke nou en dan deel ons die groot aantal foto’s wat ons neem op Facebook (www.facebook.com).

Die foto’s wat ons op ons selfone neem, word feitlik onmiddellik gedeel en die foto’s op ons kameras deel ons ná die tyd wanneer ons by ’n rekenaar is wat ’n konneksie het.

Sommige mense sou sê ons is dalk van ons trollie af en ons spandeer te veel tyd om dit te doen, maar dit is so deel van ons lewe dat dit spontaan gebeur.

Ons lewe is baie oop en almal deel in ons ervarings.

Die dae dat ek gedink het ek gaan met vakansie om weg te kom van tegnologie is verby.

Tegnologie en die gadgets is so deel van my lewe dat, indien ek met vakansie sou gaan sonder om dit saam te neem, ek vir seker nie my vakansie sou geniet nie.

Die grootste rede vir ons om hierdie foto’s en plekke te deel is eintlik dat dit ons tot voordeel strek.

Ons het outomaties ’n tydlyn van alles wat ons tydens ons vakansie doen.