Die afgelope twee tot drie jaar was ekonomies ’n aaklige tyd vir mense oor die wêreld heen. Om deur so ’n ekonomiese traumatydperk te kom vat baie werk en baie opoffering. Daar is heelwat opsies om natuurlik deur so ’n situasie te kom, soos kredietberading en die beste is natuurlik deur doeltreffende beplanning en opoffering. Ek gaan nie vandag te veel skryf oor hierdie deel nie.

Ek wil skryf oor die deel net nadat jy deur so ’n slegte tydperk gegaan het. Hoe weet jy dat jy weer jou kredietwaardigheid teruggekry het? Hoe weet jy of jy nie dalk by die een of ander kredietburo as ’n swak betaler
gelys is nie?

Ek dink die eerste stap is om ten minste te weet of jy gelys is of nie. Jy kan jaarliks ’n gratis verslag by een van die kredietburo’s aanvra. Jy kan jou net by www.mytransunion.co.za registreer en dan stuur hulle vir jou ‘n gratis verslag. Jy kan ook inteken om vir ’n baie lae bedrag deurlopend toegang tot jou verslag te hê.

Die ander diens wat jy kan gebruik, is www.credithealth.co.za. Jy kan hier ’n aantal dienste bekom, maar ek dink die heel beste diens wat hulle lewer, is ’n uiters volledige verslag oor jou en jou kredietrekord.

Hierdie verslag is nie gratis nie. Hulle verskaf al jou inligting wat deur drie kredietburo’s gelys word. In jou verslag wys hulle ook of jou kredietrekord verbeter of versleg. Hoe beter jou rekord, hoe beter sal jou rentekoerse vir lenings wees. Jy sal verbaas wees oor hoe baie inligting die buro’s oor jou het.

Dis tyd om beheer te neem en die eerste stap is om te weet hoe sake staan. As jy weet hoe dinge staan, is dit makliker om dit reg te stel.