Ek glo vas dat ’n mens elke geleentheid wat jy kry om iets nuut te leer, moet aangryp met albei hande. Ek is een van daardie mense wat nie sommer sal ophou om verder te leer nie.

Ons lewe in ’n wereld waar daar deurlopend nuwe kennis teen ’n geweldige spoed gegenereer word. Elke oomblik van elke dag is die kennis wat ons reeds het, aan’t verouder. Ons lewe in ’n kennis-ekonomie waar kundigheid meer en meer waarde kry. Goud en silwer se waarde groei nie naastenby so vinnig soos die waarde van kundigheid nie. Ek het die afgelope week ingeskryf vir ’n aantal aanlyn-kursusse wat gratis aangebied word. Die kursusse word gelys en as MOOC’s (Masive Open Online Courses) aangebied.

Die webplatform waarvan ek baie hou is Coursera.org. Registrasie is gratis en jy kan inskryf vir die kursusse waarin jy belangstel. Daar is ’n magdom om van te kies en word deur personeel van van die wêreld se voorste universiteite aangebied.

Die kursusse wissel van bekendstellingskursusse (introduction) tot gevorderde kursusse. Van programmering tot sakebeginsels, algebra tot astronomie daar is werklik iets vir almal.

Indien jy nie nou in een van die kursusse wat daar is belangstel nie, moet jy net oor ’n paar weke weer gaan loer, want daar word deurlopend nuwe kursusse bygevoeg. Die meeste van die kursusse sal ook vir jou ’n sertifikaat uitreik wat vir jou van waarde kan wees as bewys dat jy die kursus voltooi of bygewoon het.

Gaan kyk rond en geniet elke oomblik van elke kursus waarvoor jy inskryf.