Ons het almal fotograwe geword. Fotografie was jare terug ’n stokperdjie vir die een of twee mense wat baie geld gehad het vir die beste toerusting en ook wat dit kon bekostig om films te ontwikkel en die foto’s te laat druk.

Ek onthou ’n paar oorsese reise waarvan ek tot vandag toe nie al die films ontwikkel het nie. Ek het heelwat geld gehad om die films te koop terwyl ek op reis was, maar toe ek terugkom in Suid-Afrika het ek net nie in daardie stadium genoeg geld gehad om alles te laat ontwikkel nie. Die films het natuurlik intussen tot niet gegaan.

Vandag het ons almal heeldag baie goeie kameras in ons hande. Feitlik al die nuwe selfone het ’n ongelooflike goeie ingeboude kamera en dit maak dat ons almal ons kreatiwiteit kan uitleef.

Programmetjies (apps) soos Instagram gee elkeen van ons die geleentheid om kreatiewe, oorspronklike kunswerke te skep. Ons kan oomblike in ons lewens vasvang en bewaar en dit met ons vriende deel sonder om te wag.

Alles gebeur feitlik onmiddellik. Jy neem ’n foto en stuur dit aan jou vriende. Ideaal hiervoor is natuulik ’n program soos What’s App of dalk BBM vir die van julle wat BlackBerry gebruik.

Webbladsye soos Facebook het ook reeds programme wat jy op jou foon kan installeer om jou foto’s maklik met jou vriende te deel. Die belangrikste om te onthou, is om nie jou foto’s almal op jou selfoon te hou nie. Jy moet dit iewers aflaai na ’n webblad of rekenaar. Jou foon is heeldag in jou hand en blootgestel aan groot gevare. Jy kan in ’n oogwink al jou foto’s verloor.

Geniet al die foto’s wat jy neem, laai dit op en deel dit, maar bewaar ook hierdie oomblikke deur veilig te wees.