Hoe kry jy toegang tot die Internet? Gebruik jy 3G? Het jy deur Telkom ’n ADSL-lyn by jou huis?
Ek vra maar net omdat ek sien die pryse van ADSL is besig om drasties te val en ek dink dat dit dalk tyd kan wees vir jou om te gaan kyk na wat jy tans betaal en watter nuwe spesiale aanbiedinge beskikbaar is. Ek wil voorstel dat jy definitief kyk na die uncapped opsies wat nou aangebied word. Die prys van data het aansienlik geval en alhoewel die prys van 3G-data nog baie moet sak, het die pryse van data wat jy by jou huis kan kry heel bekostigbaar geword.
Hoe moet jy te werk gaan om te sien of jy dalk moet oorskakel na ’n ADSL-lyn by jou huis? Kyk hoeveel data elke lid van jou gesin per maand gebruik en wat dit jou kos. ’n Vriend van my het in Januarie ’n verrassing gekry toe sy nuwe tablet 1 GB data gebruik en dit hom R1 500 gekos het. ’n Uncapped ADSL-diens kan onder R500 per maand kos, indien nie heelwat minder nie, afhangende van die spoed wat jy kies.
Ek besef dat ons deesdae daarvan hou om op enige tyd en plek toegang tot die internet te hê, maar ek dink dis belangrik dat ons moet somme maak as dit by ons data kom. Ons kan die aflaai van groter lêers uitstel tot in die aand. Dalk foto’s op- of aflaai as ons by die huis is.
Doen ’n oudit by die huis en kyk waar jy kan bespaar. Data is deesdae goedkoop as jy die regte verskaffer gebruik. Daar is baie opsies beskikbaar, jy moet net gaan rondkyk.