Sluit jou aan by Second Life

Sê jou vriende gereeld vir jou get a life? Maak dit jou woedend? Wel, met Second Life kan jy nou werklik net mooi dit doen.Second Life is ’n opwindende virtuele wêreld wat deur Linden Labs geskep is. Dit is nie net ’n webblad waar jy besoek kan gaan aflê nie. Dit is ’n wêreld wat elke oomblik van elke dag net groter en groter word. Die hele virtuele wêreld word deur sy inwoners besit en dit word amper net soos die regte wêreld bedryf.

Jy kan gratis aansluit. Eerstens laai jy sagteware af en installeer dit. Jy registreer en begin dan jou reis deur hierdie ongelooflike wêreld. Wanneer jy klaar “jouself” geskep het, deur ’n virtuele karakter vir jouself saam te stel, gaan jy na ’n eiland waar jy leer hoe alles werk. Jy sal oral mense sien ronddwaal wat net soos jy nuut in hierdie wereld aangekom het. Wanneer jy vertroud is en alles geleer het wat jy kan doen, kan jy jouself by die res van die bevolking in Second Life aansluit.

Dit vat nogal lank om eers die hele wonder van hierdie wêreld te ontdek, want anders as gewone online games probeer jy nie die hele tyd om mense dood te skiet of om plekke op te blaas nie. Jy leef net daar. Jy kan eilande koop, jy kan ’n winkel oopmaak en produkte verkoop en selfs as jy ’n regstudent by Harvard-universiteit is, kan jy van jou klasse daar bywoon. Jy loop oral rond en jy leef daar. Jy ontmoet jou vriende daar en julle kan selfs konserte bywoon. Aangesien daar ook nagklubs in Second Life is, skep dit geleenthede vir opkomende kunstenaars om in hierdie klubs op te tree en wêreldwyd voor ’n gehoor op te tree.

Hierdie wêreld het natuurlik sy eie ekonomie en omdat daar reeds meer as ’n miljoen inwoners is, kan jy ’n goeie inkomste aanlyn verdien as jy iets het wat die ander inwoners wil koop. Jy maak jou onderneming oop en begin verkoop. Hiervoor gebruik jy Linden Dollars en wanneer jy ’n goeie bedraggie opgebou het, kan jy dit in regte geld omsit, of dit daar bestee – koop ’n huis, koop virtuele klere, miskien ’n motor?

Die moontlikhede in Second Life word net beperk deur jou kreatiwiteit en jip, jy kan vlieg ook!

Soos met alle gemeenskappe op die internet is dit altyd belangrik om te onthou om nie te veel inligting oor jouself aan ander bekend te maak nie. Dit is ook veiliger om eerder by die tiener-weergawe van Second Life aan te sluit by http://teen.secondlife.com. Gaan besoek sommer vandag nog hierdie virtuele wêreld en word deel van hierdie vinnig groeiende gemeenskap! – nico baird