Nico Baird EK kry weekliks een of ander e-pos van iemand wat my mening oor sekere produkte vra. Ek het, soos die meeste mense, maar my voorkeure en as ek iets aanbeveel, is dit absoluut omdat ek ervaring van die produk het. Indien ek gebruik maak van ’n produk en dit is iets wat vir my geen probleme gee nie, beveel ek dit aan. Ek is ook vinnig om mense te waarsku indien ek slegte ervarings met produkte het.
Ek het hierdie week toevallig twee navrae oor drukkers gekry en ek het besluit om my mening te deel. Wanneer dit by drukkers kom, moet ’n mens versigtig wees, want goedkoop koop is dikwels duurkoop. ’n Goeie reël wat ek volg, is om nie na die prys van die drukker te kyk nie, maar eerder om te kyk wat dit gaan kos om die ink te vervang. Die meeste maatskappye wat drukkers vervaardig, weet ook dat hulle die produk goedkoop moet maak om die produk in almal se huise te kry. Die wins word op die ink gemaak wat gereeld vervang moet word.
In my ervaring is daar een drukker wat ek kan aanbeveel en dit is die Oki-reeks drukkers. Hierdie reeks kleurlaserdrukkers is ideaal vir enige klein onderneming en die koste per uitdruk is ongelooflik laag. Tydens die drukproses word daar ook ’n waslagie op die ink geplaas wat die gedrukte blad ’n glansvoorkoms gee. Ek gebruik self hierdie drukker en was nog altyd baie beïndruk met die gehalte en spoed waarteen die drukker druk.
Indien jy voel dat jou aanvangskoste wel laag moet wees en jy ’n “inkjet”-drukker verkies, kan ek Lexmark-drukkers aanbeveel. Hier is die koste per kopie nie so laag nie, maar ek was nog altyd beïndruk deur die spoed en duursaamheid van die drukkers. Tot ek my eerste Oki-kleurlaserdrukker gekoop het, het ek net Lexmark se drukkers gebruik en was altyd baie tevrede.
Ek weet daar is ’n magdom ander drukkers op die mark beskikbaar en met die veranderinge wat in die tegnologie plaasvind, verander die gehalte van drukwerk wat gelewer word drasties. Koop dus versigtig en onthou – soms is goedkoop koop nie altyd die beste opsie.