WDD-logo-date-EN-2048px

Die 14de November 2009 is dit internationale Diabetesdag.  Hierdie dag is daar om mense reg oor die wereld in te lig oor die simptome van Diabetes en ook om seker te maak dat mense darem weet presies wat Diabetes is.

Ek is so paar maande terug gediagnoseer met Diabetes en as daar al ooit ‘n siekte was wat werklik deur almal verkeerd en verskillend verstaan word is dit Diabetes.

Wanneer jy gediagnoseer word hardloop mens mos natuurlik dadelik na die Internet toe en Google dadelik om uit te vind wat jy mag en nie mag nie.  Daardie aand is jy in ‘n toestand en jaag supermark toe en jy koop al wat ‘n ding is wat geen vleis of suiker bevat nie.  Jy weet nie wat jy mag eet en wat jy nie mag eet nie.  Jy het dalk nog nie die insulien nie en jy wag nog vir die finale bevestiging. Jy glo vas dat jy van nou af soos ‘n haas gaan moet lewe van blare en gras.  Jy glo vas dat indien iets smaak het sal jy dit nie mag eet nie.  Die probleem is dat op die Internet almal hul eie menings gee of hul produk wil probeer verkoop.  (in hierdie geval deel ek net my ervarings en dit wat ek se moet asb nie as mediese advies gesien word nie.  Indien jy wonder of nie seker is of jy Diabetes het nie, gaan  asb dadelik na jou dr toe en vind uit!)

Ek moet se dat selfs onder dieetkundiges almal hul eie idees het.  Ek was reeds by drie en elkeen het ‘n ander storie.  Die eerste een het vir my ‘n dieet uitgewerk waar ek myself dood gedra het aan al die kos wat sy wou he ek moes eet, en ek het 10kg in 10 dae opgetel.  Die volgende een reken dat maak nie saak wat ek eet nie, ek moet net sorg dat ek myself aanhoudend inspuit met insulien en seker maak dat dit uitbalanseer.  Vir al wat sy omgee kan ek enigiets eet solank ek net die regte hoeveelheid insulien spuit om seker te maak dat my suikervlakke val.  Die laaste Dieetkundige was die dieetkundige wat deur Pick n Pay in Bloemfontein aangestel is om ‘n toer aan te bied om mense te leer wat beskikbaar is by PnP Hyper vir diabete.  Dit het ons werklik baie gehelp om beter te verstaan wat is goed  en wat is sleg.  Ek beveel hierdie toer aan vir almal.  Nie net vir Diabete nie, dit is sommer vir almal wat ‘n gesonder lewe wil leef.  Ek moet PnP bedank vir hierdie gratis toer wat hul aangebied het.

Ek wens daar was ‘n webblad spesiaal vir mense wat nuut gediagnoseer is. Iewers waarheen geneeshere jou kan verwys die oomblik wat jy gediagnoseer word, of selfs vir daardie dag of twee wat jy wag vir die uitslag van jou bloedtoetse.  Dit is ‘n verskriklike spannende tyd, jy weet nie wat oppad is of wat om te verwag nie. Jy dink jou lewe is verby.  Dit is absoluut agv onkunde. 

Die dag wat jy gediagnoseer word dink jy jou lewe is nou finaal verby en jy is desperaat vir meer inligting, maar daar is nie inligting wat jou kalmeer nie.  Die inligting is soos ek vroeer gese het is meestal om produkte te verkoop, of net iemand se opinie of natuurlik in so ‘n taal geskryf dat jy nie werklik verstaan wat aangaan as jy nie ‘n mediese graad het nie.

Ek weet vir ‘n feit dat indien jy dit wat ek nou tik lees jy heel moontlik onlangs gediagnoseer is en jy het gaan Google om uit te vind wat jy moet doen en wat jy moet eet ens.  Onder aan die blad het ek ‘n paar skakels gesig wat jou baie sal help.

Die belangrikste om te onthou is om net positief te bly.  Ja dit klink maklik, maar dit is ‘n moeilike saak.  Ek probeer positief bly, maar glo my dit is nie maklik nie.  Mens lees so gereeld oor hoeveel mense jaarliks aan Diabetes sterf.  Ek het vandag gelees dat jaarliks daar ongeveer 40 000+ mense in Suid Afrika aan Diabetes sterf.  Dit is ‘n skrikwekkende syfer! Ek weet net ek wil nie een van hulle wees nie.  Ek moet doen wat nodig is en dan sal ek nie een van die statistieke wees nie.

Indien jy nuut gediagnoseer is kan ek die volgende advies gee! (en onthou asb dat ek nog self besig is om te lees  en te leer wat ek moet doen en wat ek nie moet doen nie.)

  • Skakel alle suiker sover moontlik uit.
  • Bly weg van waatlemoen, druiwe en ryp piesangs.
  • Vleis is aanvaarbaar so moet nie dink dat as jy ‘n diabeet is jy ‘n vegetarier moet  word nie. Dit is nie waar nie!
  • Drink baie water, jy was vir die afgelope ruk voor jy gediagnoseer is ongelooflik lief vir water, jy kon dit nie uitlos nie, jy het dit liters op ‘n slag gedrink, maar nou gaan dit moeiliker.  Om jou suiker onder beheer te hou moet jy ten minste twee liter water per dag drink.  Glo my dit is belangrik.
  • Oefen so bietjie meer as wat jy voorheen geoefen het.  Ek is baie skuldig aan niks of min oefen, maar nou het ek ‘n netjies moderne en gemaklike oefenfiets met ‘n klomp fancy knoppies.  Ek sit nog steeds nie vir ure op hom en trap nie, maar ek het hom voor die televisie en elke aand of middag trap ek net vir so paar minute.  Enige oefening is beter as geen oefening.  Ek sal nog so met die tyd saam bietjie meer begin oefen.  Net eers gewoond raak en die ergste slegwees oorkom.
  • Geniet meer dinge, twee van die slegte goed wat kan gebeur is dat jy jou bene / voete kan verloor en jou sig.  Dus moet jy werklik seker maak dat jy die lewe en daardie twee dele van jou liggaam oppas en geniet.  Dus moet jy werklik gaan stap op mooi plekke en seker maak dat jy die wereld en als wat mooi is sien.  Ek besef dit klink baie negatief, maar selfs al gebeur dit nie met my nie sal ek darem soveel meer mooi dinge in die lewe ervaar.
  • laat jou oe ordentlik toets nadat jy gediagnoseer is. Maak seker dat daar nie reeds skade is nie.
  • As jy net gediagnoseer is sal jy dalk sien dat jou sig baie swak is.  Ek het selfs op ‘n stadium voor ek diagnoseer is dit moeilik gevind om op my selfoon te kan lees.  (dit met ‘n bril). Hierdie swak sig is agv jou hoe bloed suiker.  Doen bietjie oefening of gaan stap sodat jou bloedsuiker verlaag en kyk dan of dit gehelp het.  Indien jy nog nie gediagnoseer is nie maar dit klink bekend wat ek nou beskryf het gaan dadelik dat jy getoets word vir Diabetes.
  • Lees alles wat jy kan en vra dan jou dokter wat sy dink van die advies wat jy op die web kry.  Daar is wonderlike raad op die web, maar daar is ook ‘n klomp raad wat nie goed is nie.  Wees versigtig.
  • Koop vir jou gemaklike skoene en natuurlik gemaklike kouse. Ek het die vakansie vir my selfs kouse gekoop wat spesiaal vir diabete gemaak word.  Dit was bietjie duurder as gewone kouse, maar dit is verseker die gemaklikste kouse wat ek nog ooit besit het.  Ek moet nou net nog ‘n paar pare koop, maar kon dit nog nie hier in Bloemfontein opspoor nie. (het die ander paar in Strand by PnP gekoop)
  • Passop vir Chocolates en ander lekkers wat volgens die vervaardigers suikervry is.  Hulle het gewoonlik sommer baie vet in.  Iewers moet hulle smaak inkry.
  • Drink gerus Coke Zero en die ander Dieet of Zero koeldranke.
  • Ouma se Nutri Rusks is ook heel aanvaarbaar vir ‘n snack.  Ek het gedink ek gaan vir altyd duur diabete beskuit by die tuisnywerhede moet koop.
  • As jy baie melk drink, drink vetvrye melk.  As jy net melk in jou koffie drink kan jy sommer volroom gebruik.  Baie mense voel dat jy 2% moet gebruik, maar volroom het iets soos 3% of 4% vet in, so dit is nie asof jy vreeslik minder vet inkry nie.  Jy gebruik in elke geval so min melk in jou koffie dat ek nie dink dit is iets waaroor mens veel moet bekommerd wees nie.
  • Maak seker dat jy maar altyd ‘n ou lekkertjie in jou sak of iewers naby het.  Super C’s werk perfek.  Indien jou suiker dalk te laag daal en jy voel jy wil omval, kry vinnig een en suig hom. Die Super C’s word sommer lekker vinnig deur jou liggaam opgeneem.  Moet nie dan aanhou en die pakkie opeet nie.  Ek het eendag toe ek een suig baie moeilik opgehou eet, want ek het al vergeet hoe lekker lekkers kan wees.
  • Dialite roomys is great!  Dit is veral lekker as jy vir ‘n ruk nie roomys geeet het nie en jy dit dan eet.  Die smaak is definitief bietjie anders, maar nog heel aanvaarbaar.  Coke Zero en Dialite float is werklik net so lekker soos ‘n Coke Float. Dit klink net nie so nie.
  • 3 Koppies popcorn is gelykstaande aan een snytjie brood! Dus kan jy lekker popcorn eet terwyl jy gaan fliek, maar stadig met die sout.
  • As jy ‘n diabeet is het jy nie ‘n diabetisdieet om te volg nie.  Jy moet net gesond eet!  Leef net gesond!  (enigste ding is los die suiker uit!)
  • alles wat ek hier bo noem is van die goed wat vir my gese is ek maar kan eet en drink en dis belangrik om nou nie te dink dat jy ‘n tien kilogram beskuit kan gaan eet nie.  Alles moet in die aanvaarbare hoeveelhede geniet word en niks moet oordoen word nie.
  • double check alles wat ek hier geskryf het met jou Dokter!!!!  Ek is nie ‘n dokter nie, so maak seker! Jou gesondheid is belangrik!

Ek glo dat hierdie ‘n baie lang gebabbel is en dat indien jy nie ‘n diabeet is nie jy nou al lankal aan die slaap wou raak, ek wil egter my ervarings deel soos ek hier sit en tik, sonder om spelling te double check of om seker te maak dat alles taalkundig reg is ens.  Ek tik vandag so asof ek gesels en ek hoop dat ek jou so bietjie kon help om beter te verstaan wat nou aangaan en dat daar lig is!

Ek glo ek sal nog gereeld aan hierdie stuk verander en edit en dalk byskryf en ek hoop dit het vir jou iets beteken! Laat weet my!

Maak seker dat jy die skakels hier onder besoek om te sien wat die tekens is dat jy dalk diabetes het.  Moet asb nie soos ek maande vat voor jy Dr toe gaan nie.  Gaan en kry klaar!

Belangrike skakels as jy net gediagnoseer is.

http://www.diabetessa.co.za

http://www.worlddiabetesday.org ( hier is ‘n groot klomp inligting beskikbaar)

http://en.wikipedia.org/wiki/Diabetes

daar is baie ander bronne, maar ek glo om net eers te weet wat met jou aan die gebeur is, is hierdie al wat nou belangik is.

Sterkte!

Nico Baird