EK wil iets sê en ek gaan dit sê: Die pryse vir bandwydte in Suid-Afrika gaan nou val dat die water spat!

‘n Jaar gelede was die pryse van ADSL-bandwydte ongelooflik duur, maar die afgelope paar maande het die pryse geweldig geval.

Die gemiddelde pryse per gigagreep vir ADSL-bandwydte is nou R20 en R30 en vir ‘n paar honderd rand kan onbeperkte toegang tot die internet verkry word.

Dié lae pryse is natuurlik net op ADSL beskikbaar en ook net van spesifieke verskaffers, maar dit is beskikbaar indien jy minder wil betaal vir dieselfde dienste waarvoor jy moontlik nou nog baie opdok

Dit is dalk ‘n goeie idee om te kontroleer wat jy betaal – sommige verskaffers vra steeds ongeveer R60 per gigagreep.

As jy dit betaal, moet jy weet iemand maak baie geld uit jou.

Die koste van bandwydte neem daagliks af en gaan in die volgende maand of twee steeds afneem.

Met al die nuwe internet-onderseekabels wat in gebruik geneem word, sal bandwydtepryse dalk met nog  ten minste 75% afneem. Ek wil amper voorspel die gemiddelde prys per gigagreep sal na ‘n gemiddelde prys van tussen R5 en R10 afneem.

Ek besef 3G- en 4G-pryse is nog onbetaalbaar hoog, maar ek hoop die diensverskaffers sal ook sien dat  indien hulle hul winste sny  hulle vir meer mense toegang tot die web sal kan gee.

Internettoegang behoort ‘n basiese reg van elke burger te wees.

Enigeen met ‘n gemiddelde inkomste behoort dit te kan bekostig om toegang tot die internet te verkry.