SOOS ek reeds voorheen geskryf het, is dit tyd vir my om my selfoon op te knap en my weer vir twee jaar in ’n kontrak te begewe. Ongelukkig is selfone so duur die enigste manier om ’n goeie selfoon te bekom is om dit op kontrak te neem.

Dit is hoekom ek vandag wil aanbeveel dat, indien jy dan vir twee jaar ’n selfoon gaan gebruik, jy seker moet maak dat jy die nuutste en beste selfoon wat jy kan bekostig, aanskaf. In die wêreld van tegnologie is twee jaar ’n baie lang tyd en as jy mooi dink, sal jy besef hoe vinnig dinge in twee jaar verander wanneer dit by selfone kom.

Dit is ’n wonderlike, opwindende wêreld, maar wanneer jy so persoonlik met ’n toestel saamleef soos jou selfoon is dit juis soveel belangriker om seker te maak jy gaan 100% tevrede wees met die selfoon wat jy kies.

Voldoen die selfoon in jou behoeftes? Hoe voel dit in jou hand? Is die selfoon nie te swaar nie? Wil jy die internet met jou selfoon besoek of is dit werklik net vir bel? Raad wat ek kan gee, is jou selfoon moet by jou pas en nie jy by jou selfoon nie. Daar is baie selfone wat ongelooflike ekstras het, maar dit is nie altyd nodig vir jou selfoon om swaar gelaai te wees met funksies wat jy nie gebruik nie. Maak ’n lysie van jou behoeftes voordat jy jou foon gaan kies en maak seker hy kan alles doen wat jy nodig het. Indien nie, gaan jy later spyt wees en dan is dit te laat. Ek is iemand wat hou van al die ekstras en ek gebruik my selfoon vir byna alles. Ek skryf volgende week oor die iPhone 4 wat dié week vrygestel is. Ek het reeds vir my een aangeskaf en sal volgende week oor my ervarings skryf.