Ben Burger – Volksblad 7 Januarie 2011
UIT die aard van sy beroep werk Nico Baird daagliks daarmee, maar hy is ook volgens www.twitaholic.com die Suid-Afrikaner met die vyfde meeste volgelinge op die sosiale netwerk Twitter.
Maar wat beteken al hierdie goed?
“Ek is al sedert my studentejare by die SUT (toe nog die Technikon Vrystaat) geïnteresseerd in tegnologie en die kuberruim, maar in 1993 was die internet nog net ’n droom in Suid-Afrika. Selfone was toe nog iets uit die buitenste ruim.
“Iets waarmee jy vir ET kon bel.
“Ek wonder of mense nog die uitdrukking ET phone home onthou?
“Uit die aard van my werk moet ek op die hoogte bly van die nuutste neigings in die kuberruim en daarom lees ek deurgaans die jongste tegnologiese nuus en luister ek elke oggend na verskillende potgooie van oor die wêreld heen.
“Die potgooie gaan oor wat op die oomblik in die kuberruim en sosiale netwerke aangaan.
“Ek skryf ook al sedert 2006 ’n tegnologie-en-internetrubriek vir Bloemnuus, een van Volksblad se gemeenskapskoerante.
“Baie mense is skrikkerig vir die internet of kuberruim en woorde soos potgooi, blog en twiet, maar dit is waarskynlik net omdat dit vir hulle vreemd is.
“’n Potgooi is ’n program wat opgeneem word en dan op ’n webblad gebêre word waar dit afgelaai kan word.
Gebruikers kan dan (meestal gratis) op die potgooi inteken. Potgooie kan klank, video en selfs teks bevat.”
Volgens Baird moet mense nie bang wees vir die internet en al sy fasette nie.
“So is ’n blog eintlik maar net ’n webblad wat iemand geskep het sodat die persoon maklik inligting met ander mense kan deel. Blog kom van die Engelse term web log. Die verskil tussen ’n blog en ’n webblad is bitter min.
“’n Blog is ’n chronologiese lys van artikels of inskrywings wat gepubliseer word, terwyl ’n webblad se artikels nie noodwendig chronologies gelys word nie.
“Uiteindelik verskil die twee nie veel nie. Enigiemand kan ’n blog begin en baie daarvan is gratis.
“Daar is webtuistes soos Blogger, WordPress en Letterdash waarmee jy ’n blog kan skep en dit is regtig maklik.”
Wat is Facebook en Twitter dan?
“Facebook is die grootste sosiale aanlyn-netwerk in die wêreld. Anders gestel, dis ’n plek op die internet waar jy met jou vriende kan gesels, foto’s kan uitruil en speletjies kan speel.
“Onthou dat enige mens ’n sosiale netwerk het. Jy het jou vriende, familie, kennisse en kollegas waarmee jy sosiaal verkeer. Dit is jou sosiale netwerk.
“Al wat Facebookgedoen het, is om hierdie netwerk na die internet te neem. Nou hoef mense nie mekaar elke dag te sien of te bel om te hoor hoe dit gaan nie.
“Dit is veral nuttig vir mense met vriende en familie in ander lande. Facebookhet meer as 500 miljoen gebruikers oor die wêreld heen. Daar is baie ander soortgelyke webblaaie, maar Facebook is verreweg die grootste en gewildste,” sê Baird.
Maar is dit nie gevaarlik nie, veral vir kinders?
“Facebook, Twitter, Mxit en al die ander is per se nie gevaarlik nie. Dis die mense wat dit gebruik wat gevaarlik kan wees.
“Kinders behoort in elk geval net die internet te gebruik wanneer ’n ouer teenwoordig is.
“Ouers kan gerus gaan kyk na www.connectsafely.org om te sien hoe hul kinders die internet veilig kan gebruik.”
En wat is Twitter?
“Twitter is iets anders. Twitter is ’n mikro-blogger-webblad waar mense boodskappe aan mekaar kan stuur om te sê wat hulle doen.
Twitter is soos om met ’n megafoon op ’n skare te skree en hoop iemand hoor jou.
“Wat ek daarmee sê, is dat Twitter op sy eie nie veel beteken nie. Mense wat Twitter gebruik, het gewoonlik ’n ander aanlynteenwoordigheid waarheen hulle mense wil verwys.
“Hulle gebruik dan Twitter as die boodskapper om mense na hul webblad of blog te verwys.
“My twiets is ’n sameloop van alles wat ek op ander sosiale netwerke doen en bevat gewoonlik ook skakels na van my eie webbladsye soos www.myjokeblog.com, www.faxaroo.com en www.clickkliek.com.
“Twitter is die ideale plek waar ek alles wat ek op die internet wil deel, bymekaar kan laat kom.
“Ek hou ook daarvan om wanneer ek op kongresse praat, ná die tyd te gaan kyk wie my op Twitter aanhaal en hoeveel keer dit aangestuur word.”
Meer as dit
Maar sosiale netwerke is baie meer as net dit. “Die kuberruim is onbepaalbaar groot en daar is baie dinge daarbinne. Ander sosiale netwerke wat baie gewild begin raak, is netwerke wat op selfone gegrond is soos Foodspotting en FourSquare. Hierdie dienste maak van die foon se GPS-funksionaliteit gebruik en ek is seker ons gaan nog vanjaar baie dienste sien wat hierdie tegnologie gebruik.
“Dit is alles netwerke waar mense inligting met mekaar deel. Wat dit so maklik en gebruikersvriendelik maak, is dat al hierdie netwerke en ook Facebook en Twitter deesdae op selfone beskikbaar is. Jy het dus nie meer jou rekenaar nodig nie.”
Wat beteken dit vir Jan Alleman of die plaaslike sakeman?
“Die internet het die vermoë om ’n ander wêreld vir jou oop te maak. Elke besigheid moet ’n web- of internetstrategie hê. Eienaars van besighede moet deur sosiale netwerke met hul kliënte kommunikeer. Selfs individue moet ook ’n persoonlike webstrategie hê indien hulle ’n teenwoordigheid op die internet wil hê. Mense moet van jou weet. Enigiemand kan met die regte benadering en visie geld maak op die internet.”
Wat hou die toekoms vir ons in?
“Eerstens weet ek dat internettoegang in die land nog vinniger en goedkoper gaan raak as wat dit nou is, want Suid-Afrika is steeds ver agter baie ander lande wat dit betref. “Ons is op die drumpel om beslis ’n groot verandering te sien in ’n hele aantal bedrywe waaraan ons baie lank gewoond is. Ons sal binnekort nie meer DVD’s gaan uitneem by die winkel nie, want ons sal dit sommer via die internet op TV kan kyk.
“Jy sal ook flieks so kan koop. Al hoe meer musiekwinkels oor die wêreld heen sluit hul deure. iTunes en Amazon word nou die grootste verkopers van musiek. Koerante en tydskrifte sal binnekort in elektroniese formaat beskikbaar wees en jy sal elke dag jou nuutste uitgawe van die koerant op jou e-lesereReader ontvang. Dit is baie goedkoper en omgewingsvriendeliker.”