Nico Baird
DIT is vir my ongelooflik om te sien hoe die lewe sommer so vinnig voor my oë verander.
Jare terug as jy iets wou weet, het jy iemand gaan vra wat jy gehoop het die antwoord ken of die biblioteek besoek.
Dit was die jare toe die rooi Wêreldkennis-boeke die een kas in die TV-kamer vol gestaan het en as ons take gedoen het, het ons dit uit dié boeke gedoen.
As ons deesdae enigiets wil weet, spring ons op die internet en gaan dadelik na www.google.com.
Ons vingers tik dit sonder om twee keer te dink. Enigiets wat jy wil weet, tik jy in Google in en kliek op die soekfunksie.
Só het ek my huiswerk gedoen toe ek verlede week vir my ’n nuwe TV gaan koop het. Ek het ’n paar stappe verder gegaan. Ek het my sosiale netwerke geraadpleeg.
Daar is deesdae net te veel opsies en jy moet jou “eksterne brein” inspan. Jou sosiale netwerk het ongelooflike kennis.
Ek het op Facebook en Twitter gevra dat my netwerk vir my raad moet gee. Op albei netwerke het ek raad ontvang.
Sowat 54 boodskappe tussen die twee. Elke persoon het hul opinie gegee en hul ervarings gedeel en toe ek in die winkel staan, het ek geweet watter TV ek wil hê.
In een stadium toe ek tussen twee LED-stelle moes kies, onthou ek dat my een vriend op Facebook gesê het dat ek moet seker maak van ’n paar goed en dadelik het ek geweet watter televisiestel die beter keuse sou wees.
Het ek nie my netwerk genader nie, sou ek heel moontlik die verkeerde televisie gekies het.
Só het ons ontwikkel van ’n naslaanboek tot ’n gemeenskap van kennis om te help om die regte besluit te neem. Ons leef werklik in ongelooflike tye.