DAAR is soveel sosiale netwerke en plekke om inligting op die web te kry. Die dae wat jy deur ’n biblioteek moes werk en ure by ’n tafel sit en soek na inligting is amper verby. Soos ek reeds in die verlede genoem het, is ek hard aan die werk aan ’n skripsie.

Die probleem is dat die veld waarin ek die navorsing doen ’n baie dinamiese en nuwe gebied is. Ek probeer om op die nuutste inligting by te werk, maar dit is nie die maklikste ding om te doen nie. Gelukkig leef ons in ’n tyd waar individue self hul werk kan publiseer en ook navorsing op hul blogs of webbladsye kan deel.

Ek het weer besef dat ’n diens wat ek nou al ’n jaar of twee gebruik, onmisbaar is. Dit is ’n gratis diens van Google en staan bekend as Google Alerts (www.google.com/alerts).

Jy gaan bloot na die blad toe, tik ’n woord of sin in, vul die ander opsies in en wanneer daar iets nuuts gepubliseer word (wat deur Google ge-indeks en gelys word) sal dit in ’n nuusbrief vir jou saamgevat en gestuur word. Jy kan kies hoe gereeld dit aan jou gestuur word.

Hierdie diens is nie net ideaal vir navorsing of om op datum te bly van wat in ’n spesifieke veld gebeur nie, maar dit is ook perfek vir besighede om hul besigheid se naam op die web te monitor. Indien iemand jou besigheid se naam op die web noem, sal dit dan in ’n e-pos aan jou gestuur word. Dalk net so belangrik is om te weet wanneer die opposisie se naam genoem word.