JY begin drasties gewig verloor en bly knaend dors, maar jy weet nie hoekom nie. Die kans is dat jy aan diabetes ly.

November is internasionale Diabetesmaand. Mnr. Nico Baird, rubriekskrywer van Bloemnuus, is drie jaar gelede met diabetes gediagnoseer. Bloemnuus het by hom gaan hoor hoe dit sy lewe verander het.

“Ek het geweldig gewig begin verloor en het liters en liters water elke dag gedrink. Ná ’n paar toetse is ek met tipe 1-diabetes gediagnoseer. Die diagnose was nie vir my so erg nie, maar almal om my het my begin begrawe. Dit is gewoonlik die probleem as jy met diabetes gediagnoseer word. Almal dink jy is besig om te groet en dit is nie so nie,” vertel Nico.

Bestuur dit

Hy sê dit is nie so ’n groot verandering nie, mits dit bestuur word.

“’n Mens raak vinnig gewoond aan al die dinge wat jy mag en nie mag doen nie. Jy verneuk hier en daar, maar jy doen jou bes. ’n Mens is maar net versigtiger en probeer gesonder lewe.

“Almal is natuurlik doodbang vir die inspuitings, maar glo my as ek vandag sê dat die naaldjies deesdae so dun is dat jy dit nie eens voel as jy jouself inspuit nie. In die ou dae was dit vreeslike naalde, maar nie meer nie.”

Nico sê dis belangrik om jou suikervlakke dop te hou en om jouself op te pas.

“Die groot ding is nie noodwendig suiker nie. Dit is die koolhidrate wat omskakel in suiker en al bly jy weg van alle suiker, sal jy nog jou koolhidrate moet beperk, want dit laat jou suikervlakke styg. Dis ook nie nodig om nou ’n vegetariër te word en net vrugtesap te drink nie. ’n Glas suiwer lemoensap kan jou suikervlakke laat opskiet.”

Kry ’n goeie dieetkundige

Nico sê dat dit ook baie belangrik is vir iemand wat met diabetes gediagnoseer is om by ’n goeie dieetkundige uit te kom.

“Aan die begin van my diabetes het ek by twee dieetkundiges uitgekom wat my op die verkeerde pad gelei het. Gelukkig was dit third time lucky vir my en het ek by die regte dieetkundige uitgekom wat my gehelp het om die siekte reg te bestuur.

Mediese vooruitgang

Nico sê dat daar ongelooflike vooruitgang met die behandeling van diabetes is.

“Deesdae kan jy ’n insulienpomp en -monitor kry wat deurlopend insulien aan jou liggaam verskaf en wat jou suiker ook heeltyd meet. Dit word basies ’n goed-bestuurde stelsel waar jou suikervlakke baie effektief en gesond bestuur word. Ongelukkig het ek besef dat, hoewel die meeste siekefondse (myne ingesluit) dit wel as ’n voordeel op het, hulle dit nie sommer goedkeur nie. Dus is dit vir my hartseer dat die effektiewe bestuur van diabetes nog nie werklik in ons land deur die siekefondse bevorder of werklik aanbeveel word nie,” sê Nico.

Aanvaarding

Hy sê dat mense wat met diabetes gediagnoseer word nie bekommerd hoef te raak nie.

“Vir my is dit nie die einde van die wêreld nie. As jy dit aanvaar en jou eetgewoontes effens verander, is meer as die helfte van die geveg al gewonne.” meen hy. .Besoek www.diabetessa.co.za of skakel 011-886-3765 vir meer inligting oor diabetes.

 

Skakel na oorspronklike artikel op Bloemnuus se webblad.