Dink voor jy kliek

February 16, 2012 by

Dink voor jy kliek

DAAR is ’n deposito in jou bankrekening betaal; kliek hier en jy kan die geld sien, of jou rekening word opgeskort, as jy nie nou hier kliek nie gaan jy alles verloor.

Dit gebeur daagliks dat duisende mense sulke e-pos-boodskappe ontvang. En ja, dit is ’n verneukspul. Jy kliek op die skakel wat hulle aan jou verskaf en jy dink jy gaan na jou bank se webblad toe, maar eintlik sleutel jy jou gebruikersnaam en wagwoord in ’n vals webblad in en sekondes later is jou geld uit jou rekening.

Hierdie e-pos-boodskappe is die ondergang van vele mense.

Jy skrik groot, want dit lyk dan nou of die bank al jou geld gaan vat as jy nie dadelik inspring en inteken en die fout gaan soek nie. Hoekom sal die bank jou geld wil vat? Hulle mag nie.

’n Mens is geneig om so maklik sulke e-pos-boodskappe te glo. Van my gunstelinge is van Facebook en BlackBerry waar jy ’n e-pos ontvang wat sê dat indien jy nie dadelik vir tien van jou vriende hierdie boodskap aanstuur nie, jy in die toekoms sal moet betaal vir die gratis dienste. Nou is my vraag net, hoekom sou die diens gratis bly as jy vir tien mense sê dat hulle vir die diens gaan moet betaal as hulle dit nie ook vir tien mense aanstuur nie? Hoekom sou die diens nie sommer self vir al sy lede die boodskap stuur nie?

Soms moet ’n mens net ’n bietjie dink voordat jy haastig op e-pos-boodskappe en SMS’e of slimfoonboodskappe reageer wat nie sin maak nie.

Wees versigtig. Die internet is ’n rowwe plek, maar deur net te dink is jy al klaar heelwat veiliger.

0 comments