DIE winter is om die draai en ek dink dit is die ideale tyd om met jou eie blog te begin. Wat kan dan nou lekkerder wees as om in die winter elke paar aande met ’n glasie wyn aan jou volgende blog-inskrywing te werk, of om van jou foto’s te deel?
’n Paar jaar gelede het almal oor blogs gepraat en almal wou hul eie blog skep. Vandag is blogs so algemeen en so baie mense het hul eie blogs dat ons nie meer so baie daaroor praat nie.
’n Blog is basies ’n webblad en word deur baie maatskappye gebruik om gebeure in die maatskappy met die publiek en werknemers te deel. Dit is ’n maklike platform om te gebruik en elke nuwe inskrywing wat jy maak, word chronologies bygevoeg om só ’n tydlyn van gebeure te skep.
Ek stel ook as voorbeeld elke week dié rubriek op my blog beskikbaar, tesame met ander inskrywings wat ek van tyd tot tyd maak. Indien jy dus ’n rubriek misgeloop het, kan jy maklik na www.nicobaird.com gaan om dit weer te lees.
Die geheim van ’n blog is dat jy moet skryf oor dit wat vir jou belangrik is en waarin jy belang stel.
Daar is ’n aantal gratis platforms beskikbaar waar jy jou kan registreer en ’n bietjie kan eksperimenteer. Besoek gerus www.posterous.com, www.tumblr.com, www.wordpress.com en ook www.blogger.com. Kyk ’n bietjie wat elkeen van hierdie blogplatforms jou bied en kies een wat jy dink aan jou die beste opsies gaan bied. Registreer jou, kies ’n templaat en begin met jou eerste inskrywing.
Jy is ook welkom om jou adres met my te deel deur dit vir my te e-pos. Wie weet, dalk skryf ek nog eendag oor jou nuwe blog.