HOE bemark jy jouself? Bevat jou Curriculum Vitae (CV) die jongste inligting? Wanneer laas het jy die moeite gedoen om dit by te werk?
Jy moet onthou dat jou CV nie meer ’n dokument is wat getik moet word op ’n ou tikmasjien nie, so jy kan maar werklik die elektroniese weergawe van jou CV gereeld bywerk.
Om die waarheid te sê, dit is nie werklik deesdae genoeg om net jou CV op jou rekenaar te hê nie. Jy moet in hierdie moderne wêreld ook ’n plek op die web hê waar jy jou volledige CV (dalk net sonder jou huisadres en telefoonnommer) beskikbaar kan stel.
Hier is ’n paar wenke. Maak seker dat jy jou CV iewers op die web uiteensit waarheen jy iemand sal kan verwys indien hulle meer inligting oor jou benodig. ’n Baie goeie plek om dit te doen is op ’n professionele sosiale netwerk soos www.linkedin.com.
Dit is ook belangrik om te onthou dat jy op die web geken en leer ken kan word deur dit wat jy op jou sosiale profiele plaas. Jy moet dus baie mooi dink voordat jy daardie status op Facebook of Twitter plaas. Jy moet in ag neem dat enigiemand, insluitend die eienaar van die besigheid waar jy dalk oor ’n paar maande om ’n pos wil aansoek doen, kan sien wat jy aangevang het. Moet niks op jou profiel plaas wat jy nie met jou Ouma sal deel nie. Jou sosiale profiel is deesdae deel van jou CV.
CV’s verander baie en dit is ’n goeie idee om ’n bietjie op die web te soek na nuwe idees van hoe jy jou CV kan moderniseer. ’n Baie belangrike konsep om deesdae in jou CV te sit is grafika. Kyk ’n bietjie na www.resumup.com en ook www.visualcv.com vir ’n paar idees en ook vir hulp met jou nuwe CV.