EK is ’n groot ondersteuner van e-boeke, e-tydskrifte en e-koerante.

My lewe is ook redelik rekenaargerig omdat ek alles wat ek doen tot ’n groot mate op die een of ander digitale apparaat plaasvind. Dit is of ’n rekenaar, iPad of ’n selfoon.

Dit is dus redelik snaaks dat ek tot vroeër die week nie Volksblad in digitale formaat ontvang het nie. Ek het, soos die meeste mense, na Volksblad se webblad en ook News24.com gegaan om die nuutste nuus te kry, maar nooit het ek gedink om in te teken nie. Ek het gedink ek sien mos alles wat ek wil sien op die web.

Die probleem is dat ek wel gereeld die gedrukte weergawe van die koerant gekoop het. Daar is tog meer in die koerant as net die hooftrekke.

Ek het toe hierdie week ingeteken op die digitale uitgawe van Volksblad. My eerste indruk is dat dit vir my ’n ideale formaat is en dat ek dit maklik op rekenaar en op iPad lees. Dat dit in Pdf- en ePub-formaat is, stel jou in staat om dit op ’n aantal platforms te kan lees. Ek kry ook die idee dat dit makliker lees as die gedrukte koerant. Ek kan sekere dele vergroot of verklein en tog kan ek die gevoel van die uitleg van die koerant ervaar soos die gedrukte weergawe.

Ek dink hierdie is ’n opsie wat sterk oorweeg moet word. Die enigste negatiewe aspek is dat die koste van die digitale intekengeld dieselfde is as die gedrukte intekengeld, maar ek is seker dat dit met die tyd sal verander. Dit is ’n baie goedkoper verspreidingsmedium en ek glo dat dit ekonomies sin sal maak om die intekenprys te verlaag vir die digitale weergawe.

Dit verander egter nie die feit dat hierdie opsie sterk oorweeg moet word indien jy wil inteken op Volksblad nie.

Terloops, daar is ook heelwat ander koerante en tydskrifte in digitale formaat beskikbaar. Gaan kyk gerus by www.mysubs.co.za vir meer inligting.