Ongelukkig lewe ons in ’n tyd waar geweld en slegte nuus die beste verkoper is. Na ’n lang dag van werk, kom jy sleepvoet by die huis aan, sit die televisie aan en jy word gebombardeer deur geweld, slegte nuus en dan het jy nog nie eens die nuus gekyk nie.
Die afgelope paar maande het ek begin opmerk hoe meer en meer van my vriende snaakse videotjies van Youtube vir my stuur. So ook word snaakse videotjies op ander sosiale netwerke daagliks gedeel en sodra jy na een gekyk het, voel jy sommer beter.
Vandag wil ek net oor Youtube skryf. Het jy onlangs gaan rondkyk op Youtube? Indien nie, kry ’n paar uur dié naweek en begin deur na www.youtube.com te gaan. Tik dan iets soos, “funny” in die soekkas. Jy sal dadelik ’n paar honderd resultate sien kies een van die videos wat vir jou snaaks klink volgens die beskrywing.
Ná die video se einde sal jy ’n skerm sien met ’n hele paar videos wat die stelsel vir jou voorstel om te kyk. Jy hoef dus nie eers verder te gaan soek vir nog snaaksies om jou dag mee op te kikker nie kliek en skater voort! Ek kan jou verseker jou gemoed sal lig en na die tyd sal jy sommer stukke beter voel.
Onthou dat jy baie bandwydte gaan gebruik, dus moet jy dit nie noodwendig op jou 3G of op jou selfoon aanpak nie.
Jy sal ook vind dat die tyd vlieg en voor jy jouself kan kry, is ’n uur of twee verby en jy voel ’n ander mens.
Ons moet meer lag, en ’n goeie plek om te begin is op Youtube.