WAT sou jy alles doen om jou volgende projek aan die wêreld bekend te stel? Ek het die afgelope paar jaar baie snaakse goed op die internet gesien wat mense doen om, óf bekend te word óf om ’n produk te verkoop, en www.Justin.tv is beslis een van die oorspronklikste pogings wat ek nog gesien het. JustinTV is reeds 32 dae op die lug – of moet ek sê – op die web? Justin, ’n Amerikaner, het besluit dat dit dalk interessant sal wees vir mense om te kan sien wat dit behels om “Justin” te wees.
Vir die volgende paar maande sal jy 24 uur per dag kan sien presies wat Justin aanvang in sy lewe.
Hy het ook drie vriende wat sy dae saam met hom deel.
Vir ’n paar maande het hulle hul huiswerk gedoen oor die nodige tegnologie om so ’n deurlopende video-uitsending moontlik te maak en sover is dit uiters suksesvol.
Dit maak nie saak waar Justin is nie, die video gaan ononderbroke voort. Jy sien die wêreld vanuit Justin se perspektief.
Die enigste probleem is dat soveel mense nou vir Justin wil dophou dat daar nie altyd plek is vir nog iemand om te kyk nie, want hul webbedieners kan net nie die massas kykers hanteer nie.
Jy kan dalk nou dink dat almal dit seker nou sal wil doen, en jy sou reg wees.
Dinsdag het Justine haar eie kanaal begin en nou kan jy vir 24 uur per dag ook na JustineTV kyk.
Ek glo nie ’n mens sal vir dae aaneen daarna kan of wil kyk nie, maar dit is werklik die moeite werd om net te gaan loer en te sien wat op die web aan die gebeur is.