Die hele wêreld sit in afwagting vir vandag se groot bekendstelling. Die iPhone word uiteindelik vandag in die VSA beskikbaar gemaak.

Die afgelope paar maande is dit al waaroor die Tech-gemeenskap op die web kon gesels. Daar is groot verwagtinge op Apple om ‘n uitsonderlike produk beskikbaar te stel, maar niemand weet nog regtig wat die iPhone gaan bied nie.

Apple is bekend daarvoor dat hul produkte uiters gebruikersvriendelik is en dat tydens die ontwerp van hul produkte die gebruiker se ervaring prioriteit is. Gaan die iPhone voldoen aan al die verwagtinge wat bestaan?

Van die GPS tot die iPod, videospeler en ander web en rekenaar funksies is baie van die dienste reeds beskikbaar op selfone soos die Nokia N95. (Indien enigiemand weet hoe om die GPS op die Nokia N95 te aktiveer laat weet my asb, want my diensverskaffer weet nie).

Apple het ook aangekondig dat gebruikers YouTube videos direk op die iPhone sal kan kyk. Die vraag is net of jy nog ‘n oproep sal kan maak na ‘n paar videos, want die batterylewe van die iPhone is nog ‘n raaisel.

Daar word verwag dat duisende entosiaste vandag voor die Apple winkels in die VSA sal begin tou-staan om van die eerstes te wees wat die iPhone sal besit.

Ons in Suid Afrika sal maar ‘n paar maande moet wag om presies te kan sien waaroor al die opwinding gaan aangesien die iPhone moontlik oor ‘n hele paar maande in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Apple verseker gebruikers egter dat die iPhone ‘n deurbraak in die gebruik van ‘n selfoon is, indien ons kyk na Apple se geskiedenis is ek geneig om hulle te glo.