Nico Baird
EK het Saterdag met ’n groepie lede van die ATKV gesels oor hoe om die internet beter te benut in hul organisasie. Nie net was dit lekker om weer vir ’n verandering ’n draai te gaan maak in Kimberley nie, maar ek het besef hoeveel opsies daar deesdae vir mense beskikbaar is om ’n boodskap oor te dra.
Die internet het so ’n wonderlike medium geword dat ons werklik hierdie wonder van die digitale era moet aangryp en optimaal moet benut.
Nuusbriewe is nog altyd ’n effektiewe medium om nuus te versprei en om inligting maklik oor te dra aan groepe mense. In die verlede was dit egter ’n duur oefening. Drukkoste en dan posgeld het hierdie kommunikasiemedium uiters duur gemaak.
Daar is egter ’n groot aantal opsies op die web beskikbaar en die skep en verspreiding van ’n digitale nuusbrief kan vinnig en goedkoop wees. Feedburner.com is ’n gratis diens wat jy maklik aan jou blog of webblad kan verbind, en deur die regte opsies te kies kan mense op jou webblad inteken om jou nuusbrief te ontvang. Die verspreiding geskied ook outomaties sodra jy jou webblad of blog se inligting opdateer.
Die tweede opsie is ’n diens soos Nouri.sh waar jy al die name en e-posadresse van ou lede of belanghebbendes kan invoer. Jy kan dan van verskillende bronne die nodige skakels invoer op Nouri.sh. Jy kies ’n tyd van die dag of die week wat die nuusbrief gestuur moet word en Nouri.sh sal dan outomaties al die nuwe inligting van al die verskillende webbladsye wat jy gelys het, versamel en in ’n netjiese e-pos saamstel en uitstuur.
Ek het ’n akademiese / tegnologienuusbrief saamgestel wat daagliks al die nuutste inligting saamstel en uitstuur.
Indien jy belang stel om dit te ontvang, stuur net vir my ’n e-pos en jy sal dit dan daagliks kry. Jy kan ook maklik onder aan die e-pos op ’n skakel kliek indien jy nie meer die nuusbrief wil ontvang nie.
Gaan speel ’n bietjie rond, jy en jou organisasie of vereniging kan wondere verrig met só ’n nuusbrief. Jy kan ook maklik bo aan die linkerkant van die skerm inteken op die ClickKliek nuusbrief!