EK haat dit dat mense so maklik na tegnologie en die internet vinger wys en dan maak asof dit die bron van alle onheilighede is.
Daar is mense wat glo dit is die plek waar al die misdadigers bymekaarkom en waar jou kinders met al die verkeerde mense gesels en dan die verkeerde dinge in die lewe begin doen.
’n Paar jaar gelede was boeke die bron van onheilighede en mense het hope boeke verbrand, ’n paar jaar later was rockmusiek uit die bose en dit het kinders laat handuit ruk.
Nou is dit die internet se beurt om deur te loop en meer spesifiek die sosiale netwerke.
Elke keer wanneer iemand iets oorkom, kry netwerke soos Facebook of Mxit die skuld vir alles.
Ek dink net werklik dit is eerder die gemeenskap en ouers se plig om kinders te leer om versigtig te wees.
Indien jy bang is jou kind doen verkeerde dinge op die internet, hou dan toesig.
Om jou kind toegang tot die internet te gee in sy kamer en dan geen perke te stel nie is moeilikheid soek.
Sal jy jou kind in die middestad alleen laat rondloop? As jy dit toelaat en jou kind kom iets oor in Wes-Burgerstraat, beskuldig jy dan die straat? Beskuldig jy die boewe wat jou kind iets aangedoen het of is die fout by jou wat dit toegelaat het?
Net soos jy jou kind sou leer om nie in die strate alleen rond te loop of lekkers van ’n vreemdeling te aanvaar nie, net so moet jy jou kind lewensvaardighede op die internet leer.